Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 14 JANUARIE 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin die bulletin met nuus van ʼn stil sleutel

Dit is met leedwese dat die Durban Amateurradioklub aankondig dat die sleutel van Norman Ellor, ZS5YM, in November 2017 stil geword het. Hy is in 1956 as ZS9P gelisensieer en was ‘n lid van die Durban Tak van die SARL en toe later van die Durban Amateurradioklub.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Patricia (ex ZS5YL), familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

BESPREEK NOU VIR DIE SDR-WERKSWINKEL OP 20 JANUARIE 2018

ZS6SRC - VIERING VAN 30 JAAR IN AMATEUR RADIO

en

OPWINDENDE VERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Bly gerus vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

BESPREEK NOU VIR DIE SDR-WERKSWINKEL OP 20 JANUARIE 2018

Die SARL en AMSAT SA hou op Saterdag 20 Januarie 2018 weer 'n SDR werkswinkel by die Nasionale Amateur Radio Sentrum. Die doel van die werkswinkel is om die toepassing van SDR dongles en die verskillende sagteware pakkette wat beskikbaar gestel by vorige werkswinkels te hersien. Anton Janovsky, ZR6AIC, sal beskikbaar wees om te help met enige tegniese probleme. Daar sal 'n bespreking wees van die HF Geraas-moniteringstelsel en die opstel van 'n bediener om die data te stoor en AMSAT SA sal 'n kort opdatering oor Kletskous aanbied. Die koste van die werkswinkel is R50 vir SARL en AMSAT SA lede en R100 vir nie-lede. Ligte verversings sal bedien word. Vir besonderhede en registrasie besoek www.amsatsa.org.za

VOLGENDE NAWEEK VIND DIE PEARS NASIONALE BHF EN UHF KOMPETISIE PLAAS

Die PEARS Nasionale BHF- en UHF-kompetisie vind plaas van 19 tot 21 Januarie 2018 en word verdeel in twee 22-uur sessies om die aktiwiteit oor die hele naweek te versprei en voordeel te trek uit die voortplanting. Die eerste sessie begin Vrydag 19 om 16:00 UTC en eindig op Saterdagmiddag om 14:00 UTC. Die tweede sessie begin dadelik na 14:00 UTC en eindig om 12:00 UTC op Sondag 21 Januarie.

Die kompetisie is oop vir alle gelisensieerde amateurs in Suid-Afrika, insluitend nie-lede van die SARL, sowel as amateurs van die naburige state. Die naburige state sluit in Namibië (V5), Botswana (A2), Zimbabwe (Z2), Mosambiek (C9), Lesotho (7P) en Swaziland (3DA), maar amateurs uit Angola (D2) en Zambië (9J) word ook genooi om deel te neem. Al hierdie lande is binne die Sporadiese-E-sone van Suid-Afrika en kan ook geraak word deur Tropiese Tropo-toestande.

Die PEARS BHF/UHF kompetisie is 'n dubbele kompetisie wat beide analoog en digitaal as afsonderlike kompetisies insluit. Dit dek die volgende vyf bande: 50,2 - 50,4 MHz, 70,15 - 70,27 MHz, 144,2 - 144,4 MHz, 432,2 - 432,4 MHz en 1 296,2 - 1 296, 4 MHz. Daar is ses verskillende kategorieë om deel te neem aan: Basisstasie, Veldstasie, Klub Multi-operateurstasie, Rover-kategorie, Beperkte kategorie en 'n Afdeling FM-kategorie op 144,400 en 145,000 MHz. Sien asseblief die 2018 SARL Blouboek vir die reëls van die kompetisie of kontak Mike, ZS2FM op mikecbosch@gmail.com vir verdere inligting.

ZS6SRC - VIERING VAN 30 JAAR IN AMATEUR RADIO

Die Secunda Amateurradioklub vier sy 30ste bestaansjaar met 'n week van DX op ses HF bande. Toegewyde radiostasies vir elkeen met hul eie yagi antenna sal op die Hoëveld Seilklub by Trichardsfonteindam opstel word. Radio-amateurs uit Suid-Afrika en die SAOG-lande word uitgenooi om by die week aan te sluit en tyd te spandeer om elke stasie te bedien. Deelnemers word genooi om saam met lede van die Secunda-span te kamp en braai. Die klub sal die stasies en antennas oprig, bring net jou tent en kos en sluit aan by die vieringe.

Die doel is om gedurende die tydperk ten minste 3000 plaaslike en DX-kontakte per band te maak. Dit is 'n optimistiese teiken en jy word uitgenooi om dit te laat gebeur en geniet 'n week van amateur radio. Vir meer inligting, kontak gerus een van die volgende persone met SMS-boodskappe of Whatsapp - Gert Botha, ZS6GC, by 082 771 0663 of Lucas Swart, ZS6ACT, by 082 314 3265 of e-pos christokriek461@gmail.com.

Teen 1988 het die aantal radio-amateurs in die Secunda-gebied van 4 tot 12 gestyg, genoeg gelisensieerde radio amateurs om die Suid-Oos Transvaal Tak van die SARL te vorm. In 1992 het die Suid-Oos Transvaal Tak by 'n spesiale AJV gestem om die Secunda Amateurradioklub te stig en die roepsein ZS6SRC te kry.

OPWINDENDE VERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

In Desember het die SARL opwindende veranderings aangekondig vir die SARL tydskrif-program, Amateur Radio Today. Vanaf 21 Januarie sal die program slegs in Engels wees en sal die vakinhoud uitgebrei word, met die klem op tegnologie en aktiwiteite wat die groei van amateur radio sal bevorder, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die Afrika-vasteland en omliggende eilande. Die nuwe formaat sal ook voldoen aan die IARU se oproep om te fokus op die ontwikkeling en uitbreiding van amateur radio in Afrika en sal meer in lyn wees met Sentech se verwagting dat die program op tegniese ontwikkeling moet fokus en eksperimentering moet aanmoedig. Ou gunstelinge soos die Hamnet-, satelliet- en HF-verslae sal 'n hooffunksie bly. Daar sal elke week 'n nuwe inset wees met BHF-aktiwiteite wat deur Mike Bosch ZS2FM geredigeer word, sowel as amateur radio-nuus van regoor die wêreld in "Focus on the world".

Amateur Radio Today nooi mense wat belangstel in die redigering en aanbieding van insette of om 'n anker-aanbieder te word, om 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za te stuur met hul kontakbesonderhede.

Dawie Conradie, ZR6DHC, wat die program saam met Hans van die Groenendaal saamgestel het, gaan tydelik afstaan om meer tyd aan sy familie en werk te spandeer. Hy het aan die SARL President, Nico van Rensburg, gesê dat sodra omstandighede verbeter, hy sal terugkeer na die program. "Ek wil Dawie bedank vir sy jare se toewyding aan die program en sien uit daarna om in die toekoms saam met Dawie op Amateur Radio Today en Amateurradio-in-Aksie te werk," het Nico gesê.

Daar word beoog dat Amateurradio-in-Aksie na 'n vroeëre tydgleuf tussen 09:30 - 10:00 plaaslike tyd sal verskuif en steeds beskikbaar wees vir aflaai vanaf die SARL Webblad. Dawie en sy kollegas het egter besluit om 'n kort breek te neem om op die program te fokus. Dawie het aan SARL Nuus gesê dat hulle binnekort weer terug sal wees met Amateurradio-in-Aksie. Besonderhede sal in SARL Nuus aangekondig word.

Jy luister aan ʼn nuus uitsending van die Suid Afrikaanse Radioliga

MEI RADIO AMATEUR EKSAMEN

Die registrasie vir die Mei RAE sal op Maandag 22 Januarie open en sluit op Sondag 22 April. Die eksamen sal op Saterdag 19 Mei geskryf word.

DIE SOMER QRP KOMPETISIE

Die QRP-kompetisie is bedoel om 'n prettige aktiwiteit te wees om QRP-operasie tussen radio amateurs te bevorder wat tuisgeboude toerusting gebruik of as 'n draagbare of veldstasie werk en tydelike antennas gebruik. Dit word aangemoedig, maar is nie 'n vereiste nie.

Die Somer QRP-kompetisie vind plaas vanaf 12:00 tot 15:00 UTC op Saterdag 27 Januarie 2018 met foon en gelykgolf werking met 5 watt (PEP) of minder en daar is geen antenna beperkings nie. Die eerste uur is slegs beperk tot die 40 m band. Die oorblywende twee ure is deelnemers vry om enige HF (nie-WARC) bande te gebruik soos hulle dit goeddink.

Die uitruiling is 'n RS- of RST-verslag en jou 6-syfer ruitvierkant, jy kan ook jou SOTA- of Fauna- en Flora-verwysingsnommer insluit. Elke QSO tel 1 punt en daar is voorvoegsel- of land vermenigvuldigers sowel as stasie tipe vermenigvuldigers. Jou logstaat in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat met 'n opsommingsblad en gemerk "my roepsein QRP kompetisie" moet teen 3 Februarie 2018 per e-pos aan contest@sarl.org.za ingedien word. En moet nie die foto's van jou stasie in aksie wat die loginskrywing moet vergesel nie vergeet nie. Raadpleeg die 2018 SARL Blouboek vir die volledige stel reëls.

DIE DUBUS TYDSKRIF

Dis die tydskrif vir die ernstige BHFer en hoër. Die ledegeld vir DUBUS is weer betaalbaar. Die koste vir 4 kopie sal R 365.00 wees. Die verspreiders het besluit om DUBUS weer teen 'n baie lae prys te gee. As jy belangstel om die tydskrif te ontvang, kontak Pine, ZS6OB, by pienaarja@gmail.com so gou as moontlik, hy moet teen die einde van Januarie 2018 die verspreiders van verwagte getalle van ZS in kennis stel.

STREEK 1 BHF/UHF NUUSBRIEF

Die IARU Streek 1 BHF/UHF Nuusbrief nr 76 is beskikbaar vir aflaai vanaf die voorblad van die SARL webwerf. Die nuusbrief bevat 'n verslag van die aktiwiteite van die permanente BHF-komitee sedert die 2017 Algemene Konferensie in Landshut.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is nie veel van 'n kans vir ernstige sonfakkels nie. Gedurende 2017 was daar in totaal 104 dae sonder sonvlekke gewees. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

17 Januarie - die provinsiale skole open
19 tot 21 Januarie - die PEARS BHF/UHF-kompetisie
20 Januarie - die SDR-werkswinkel by die NARS
22 Januarie - registrasie vir die Mei RAE open
20 tot 28 Januarie - Verjaarsdagvierings van die Secunda ARK
26 Januarie - sluitingsdatum vir artikels vir die Februarie Radio ZS
27 Januarie - die Somer QRP Kompetsie
30 Januarie - sluitingsdatum vir voorstel en opsomming vir AMSAT SA Simposium besprekingsdokumente
31 Januarie - sluitingsdatum vir nominasies vir die Raad en SARL-toekennings en vir mosies vir die algemene jaarvergadering
28 Februarie – sluitingsdatum vir 2018 SARL Eregallery nominasies

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die SARL en AMSAT SA hou op Saterdag 20 Januarie 2018 weer 'n SDR werkswinkel by die Nasionale Amateur Radio Sentrum. Die doel van die werkswinkel is om die toepassing van SDR dongles en die verskillende sagteware pakkette wat beskikbaar gestel by vorige werkswinkels te hersien. Anton Janovsky, ZR6AIC, sal beskikbaar wees om te help met enige tegniese probleme. Daar sal 'n bespreking wees van die HF Geraas-moniteringstelsel en die opstel van 'n bediener om die data te stoor en AMSAT SA sal 'n kort opdatering oor Kletskous aanbied. Die koste van die werkswinkel is R50 vir SARL en AMSAT SA lede en R100 vir nie-lede. Ligte verversings sal bedien word. Vir besonderhede en registrasie besoek www.amsatsa.org.za

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Andy Cairns, ZS6ADY, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003